Nuwe Radio storie aan't komme ...

Katbosbult is ‘n tipiese Karoodorpie met sy bekoring van Boerneef se Katbos en Kambro asook sy dwergvetplante. Sedert 2019 is dié vetplante gesogter en meer lonend as renosterstropery.

RADIO STORIE

ONSRADIO

5/21/20232 min read

Katbosbult is ‘n tipiese Karoodorpie met sy bekoring van Boerneef se Katbos en Kambro asook sy dwergvetplante.

Sedert 2019 is dié vetplante gesogter en meer lonend as renosterstropery. Asiatiese markte het ‘n ongekende honger daarvoor. En midde in die armoede op die dorp word die steel van die vetplante ‘n plaag waarmee sersant Jakes Johnson nie meer kan tred hou nie. Veral noudat sy vrou hom gelos het en sy hom kaal in die skeihof wil uittrek.

Dis veral weduwee Chrissie Celliers op haar plaas Halfmens, wat deurloop. En dit nadat Manie Maritz kort duskant hulle huwelik inmekaar sak en die tydelike met die ewige verwissel. ’n Tragedie wat sy enigste dogter Monique weier om te aanvaar. Sy vermoed daar was gif betrokke en sy is knaend by die polisie dat hulle verdere ondersoek begin instel.

Nie dat Chrissie lank treur nie. Nee, die aantreklike dorpsraadslid Eppo Engelbrecht se vrou sterf ook eweneens onverwags. Maar tot Chrissie se ontsteltenis daag haar skoolvriendin, die sjarmante oujongnooi, Shirley Sinfield, uit Switserland op. En Eppo stel hopeloos te veel na Chrissie se sin in die vrou met die indrukwekkende CV belang.

Eppo se sekretaresse, die fiksheidsfantikus, Reggie Roberts, staan weldra meer tyd af aan die hulpverlening en organisering van haar baas se privaatlewe as aan sy kantoorlewe. Eppo maak die fout om Shirley aan te moedig om haar verkiesbaar te stel vir die vakante pos op die dorpsraad. Chrissie besluit terstond sy is geroepe om die volgende dorpsraadslid op Katbosbult te word. Dit loop uit op ‘n katgeveg soos die dorp nog nie beleef het nie. Monique besluit op haar eie sy is Shirley se helper in haar hoek omdat sy nie kan wag om haar amperse stiefma ‘n punt of twee te wys nie.

En dan is daar die misterieuse en welaf kunstenaar Leonardo le Roux wat op Shirley se voetspore, die dorp binne loop, die restaurant koop en Katbosbult bekend wil maak. Hy stel die aantreklike jong man Jasper Jonker aan as sy assistent restaurantbestuurder. Hy’t groot planne vir hom en Jasper vorentoe. Leonardo skilder graag, veral vroue, en hy volg en verpes Shirley al jare lank vergeefs om haar te mag skilder.

Katbosbult is ‘n mikrokosmos van Suid-Afrika. Daar is diegene met edele harte en opregte pogings om die gemeenskap op te hef. Maar midde-in die armoede en ellende gedy die misdaad, die afguns en die geskinder op die dorp.

Ván die akteurs wat rolle vertolk, het reeds die afgelope jare geliefd geword by die luisteraars: Ria Smit, Anton Dekker, Antowan Nöthling, Stefan Vermaak en Izel Bezuidenhout. Twee nuwelinge maak hul buiging in die reeks: Kaz McFadden en Rika Nieuwoudt.

Bettie Kemp speel self ook ‘n rol en is die vervaardiger van Katbosbult, ‘n 120 episode lekkerluister verhaal met spanning, humor en intrige, geskryf deur Joe Kleinhans.

Meer besonderhede volg binnekort ......