50 Jaar gelede ....

Suid Afrikaanse Musiek van 50 jaar gelede .... onthou jy nog ?

MUSIEK

ONSRADIO

5/28/20233 min read

50 Jaar gelede .....

Hierdie week, 50 jaar gelede, het ons die blad op die almanak agter my kamerdeur omgeslaan na die week van 28 Mei 1973 ....... ek was in Standerd 8, deesdae se Graad 10, en my musiek gewaarwording op sy piek ! Ons het geluister na OFM (in die Vrystaat) en Vrydagaande na die Springbok Radio Top20 ........ as niemand kyk nie, het ons ons eFeMpie na die noorde geswaai en op kortgolf na LM Radio geluister ! ........ en altyd gereed gestaan met die kassetopnemer om ons gunsteling musieksnit te “tape” en te swets as die aanbieder dan tydens die snit allerhande dinge kwytraak ! “Edit” was iets wat nie bestaan het nie en ons het maar gedwee saamgeleef met die gekrokte opname !

En as julle weer vandag wonder waarna het ons geluister 50 jaar gelede, hoef ons maar net te kyk hoe het Springbok Radio se Top20 lys gelyk....... destyds was hierdie lys gebaseer op verkope van “seven-singles” by kleinhandelaars of platehandelaars en hierdie syfers is aangebied sonder inagneming van hoeveel luisteraars dit gehoor het nie en, natuurlik, stroming was iets wat nie bestaan het nie !


Kom ons gesels so bietjie oor die Springbok Radio Top20 lys van Vrydag, 25 Mei 1973 .......


1 Can’t Keep it In – Cat Stevens

2 Never Never Never – Shirley Bassey

3 We Believe in Tomorrow – Freddy Breck

4 The Love in Your Eyes – Vicky Leandros

5 I Don’t Wanna Play House – Barbara Ray

6 The Morning After – Maureen McGovern

7 Toy Train – John Edmond

8 I’m on Fire – Maria

9 Killing Me Softly with His Song - Roberta Flack

10 Woman (Beautiful Woman) – Don Gibson

11 Daniel – Elton John

12 Get Down – Gilbert O’ Sullivan

13 Don’t Expect Me to be Your Friend – Lobo

14 It’s You (I Want to Live With) – Peter Maffay

15 Long Haired Lover from Liverpool – Little Jimmy Osmond

16 Kentucky Blues – Lauren Copley

17 Yellow Boomerang – Middle of the Road

18 Daddy’s Home – Jermaine Jackson

19 Stuck in the Middle with You – Stealers Wheel

20 Maori Love Song – Double Vision

Cat Stevens se ‘Can’t Keep It In’ is nou vir 4 weke in die top-posisie terwyl Shirley Bassey se ‘Never, Never, Never’ vir Cat begin dreig ...... beide kunstenaars van Brittanje en alhoewel nie een van die twee liedjies my verskriklik opgewonde gehad het nie, was daar heelwat van my “plattelandse” vriende wat tog vir hulle geniet het !

Ten spyte van die titel van sy lied, klim ‘Get Down’ van Gilbert O’Sullivan met 8 plekke van #20 tot #12 ! Hierdie Ier was, en is seker nog steeds, baie gewild ! En, terwyl ons nou praat oor “klimmers”, kyk ons ook na Maureen McGovern se “The Morning After” wat van #11 na #6 geklim het nadat sy die vorige week so ver op hierdie lys geval het dat sy die “Valler van die Week” was ! Hierdie lied is natuurlik een van my gunstelinge !


Don Gibson se “Woman (Beautiful Woman)” is nou al 24 weke op hierdie lys en daarom nou die Oupa van die lys !

Carly Simon se “You’re So Vain’ en ook Deliverance se “Duelling Banjos” verlaat hierdie week die Top20 lys. Dit gee ons dan die nuwe liedjies op hierdie lys en wel ons eie Suid Afrikaanse ster, Lauren Copley, met haar “Kentucky Blues” wat geskryf is deur Terry Dempsey

Die tweede nuwe lied op ons Top20 was van New Zealand en wel van ‘n groep met die naam Double Vision. Nou, Double Vision se “Maori Love Song” met die subtitel van ‘Mehe Manu Rere’ het hierdie plek behaal terwyl hulle op toer in Suid Afrika was as ondersteuning vir Four Jacks and A Jill op laasgenoemde se “1972 Supershow”. “Maori Love Song” het nooit die NZ Charts gehaal nie en dit was dalk ons Chris Kritzinger se werk om hierdie lied te vervaardig en op “seven-single” beskikbaar te maak wat tot hierdie sukses gelei het ! Hierdie was die tweede lied uit NZ wat ons Top20 gehaal het, die ander kunstenaar was ene John Rowles..... ek moet nog sy lied waarmee hy dit gedoen gaan Googleloer !

...... en, so-by-so, wonder ek of daae enige Suid Afrikaanse kunstenaar of - groep is wat ooit die NZ Top20 lyste gehaal het ? As daar is, laat weet ons !

Daarmee, groete vir eers en hou aan om te lekker-luister op ONSRADIO, heeldag en aldag !